top of page
Writer's pictureCorine Raath

Van Brood tot Nood

Na ’n skryf-sabbattical het ek besluit om weer my pen uit die as van leeglêery soos ’n Phoenix te laat verrys – nuwe veredos en al. Ek het in die stilligheid koebaai gewuif vir ’n skryfplatform en is nou terug op my eie weiveld: effens woes en leeg na my woord-droogte soos die aarde in sy eerste stuiptrekkings. Duidelik het die breuk niks vir my neiging tot woordoordadigheid beteken nie. Ons almal het ons foute en myne sal ek in 17000 eerder as 4000 woorde beskryf net soos my een referaat. Ek weet nie of ek myself of die dosent jammer gekry het nie.

Dit lei my na produktiwiteit. Of die tekort daaraan. As jy nog nie weet nie, ons is in die middel van ’n nasionale ramp soos die noodtoestand van ouds. Moeilik om te glo, ek weet. Dit laat ’n mens nogal wonder oor die regering se definisie van ’n ramp aangesien hulle nie 1) die korrupsie 2) die toename in alle tipes geweld (wat volgens hulle “verkeerde statistieke” is) en 3) die herinstelling van beurtkrag as “ramp genoeg” sien nie. Die grootste ramp is eintlik dat ons as Suid-Afrikaners nie eers meer verbaas is nie. Ons sit soos die spreekwoordelike padda in die pot en wag om lewendig gekook te word – dis nou as daar krag en water sal wees om ons mee te kook.

"The powers that be” is egter reeds besig om jou dae te versuur en aangesien ek juis besig is om te werk aan my versetbeweging (die pen is magtiger as die swaard en al daai) sal ek fokus op ’n ligter saak. Kwarantynkaskenades. Nee, nie die KykNet-program nie. Genadiglik het ek selfs gedurende isolasie nie tot daardie vlak, of eerder daardie dieptes, gedaal nie. Indien jy ’n kranige kyker is, sal ek jou nie aan jou keuse van vermaak takseer nie – soos ek sê: Ons almal het ons foute, sommige net groter as ander.

Vermaak is egter iets wat ons almal nou by ons CV kan voeg. Kwarantyn het nie homself omgekry nie. Ekself het my ingedompel in die wêreld van bak en brou. Daar het egter geen piesangbrode onder my hande deurgeloop nie. Tensy die herinnering saam met al die ander konkoksies verteer is. Daar is altyd die kans dat dit net te traumaties was (om te bak is mos maar) sodat ek dit bloot uit my geheue gesny het. Wat eintlik saak maak, is dat ek nie my piesangbrood op sosiale media rondparadeer het nie… Ek het eerder ’n lemoenbrood. Dis ’n kuns om so net-net langs die hoofstroom te swem: te ver en jy’s nie relatable nie, te naby en jy’s vervelig. Dis soos die teenoorgestelde van om off-brand klere te dra. Net tersyde: niks fout daarmee nie, ek smaak self ’n stukkie MrPrice en (sal ek dit waag) Pep so nou en dan. Met hierdie ekonomie, lees: gebrek daaraan, wie kan ons blameer?


Die gewerskaf in die kombuis het my vreeslik dankbaar gemaak dat ons tegnologie nog nie so ver gevorder het om vir Instagram ’n proe-opsie te gee nie. Ek is seker van die mense het selfs hulle brood ge-facetune. Waaroor ek eintlik bly is, is dat ek nie al die pynappelbier hoef te proe nie, dis nou indien my ingewande enigsins die ervaring sou oorleef om daarvan te kan vertel. Ons almal weet nou waar ons volkie (mag ek nog die woord gebruik?) se harte lê. As jy al ooit ’n nasie so verenig wou sien, moes jy hulle drank afvat. Dis g’n wonder een van Rapport se gewildste video’s is oor hoe om pynappelbier te maak nie. Dit help ook dat die video deur my liewe broeder gemaak is. (Verskoon die advertensie. ’n Skryfstuk is net nie meer sy sout werd sonder ’n bietjie self- of familie-promosie nie.)

Gepraat van video’s kyk, ek het selfs ingegee en Netflix aangeskaf. Dit het my twee goed laat besef: Ek is vreeslik kieskeurig (of die kwaliteit van programme is net so vinnig aan die daal soos die kwaliteit van alles anders in ons land) en ek hoop regtig daardie “You’ve completed Netflix”-aankondiging wat mense so vertoon, is ’n grap. Indien nie, hoop ek iemand kom verwyder jou toestelle as jy nie reeds soos ’n swam aan jou bank vasgegroei het nie.

Die naarste besef was dat my produktiwiteit eksponensieel toeneem of afneem saam met die hoeveelheid werk wat ek het wat beteken dat ek aansienlik minder in die afgelope paar maande gedoen het as wat ek moes. Ek het darem nou een stuk uit my verkrampte vingers gepars. Maar dit eers daar gelaat. Soos almal sê: See you on the other side. As ek jou nog kan herken na al die bier en brood.

5 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page