Ek was weer op ’n paar avonture. Hierdie keer behels dit ’n bedraam, sonpanele, internetkabels en, die heel belangrikste – vir my.
Voor ons wegspring, ’n bietjie agtergrond.
Ek het in ’n huis groot geword waar onafhanklikheid hoog op die prys gestel word. Behalwe daarvoor, het ek ook ’n hardkoppige streek wat maak dat ek in elk geval goed self wil doen. My lewensfilosofie is dat ek soveel vinniger gaan leer indien ek self val en opstaan eerder as wat iemand my assisteer in die na-onder-donder. Laat hy val waar hy wil het by my ’n baie letterlike betekenis. Soos toe ek leer fietsry.
Op die teer ouderdom van vier (as my geheue my nie in die steek laat nie) het ek gesien hoe my broer (sonder training wheels!) soos ’n deelnemer aan die Argus-fietstoer oor ’n kampterrein vlieg. Jaloesie steur hom nie aan ouderdom nie, en net daar en dan het ek besluit: Ek. Wil. Ook.
Ek leen (steel) toe die fiets, klim summier op, slaan summier na ’n meter of twee neer, en probeer maar weer. ’n Paar (ek moet erken pynlike) minute later, was ek die fiets se baas. Sy heer en meester, of dame en domineerder (dit klink nie goed nie, nè?). Terug in die hede het ek die afgelope jaar al drie opspraakwekkende insidente gehad waar ek my staal moes wys.
Ons zoem in op insident nommer 1: die bedraam.
Eendag was daar ’n driekwartbed wat uit ’n ouetehuis geskuif moes word. Die dag was warm, die son genadeloos, en die bed heelwat swaarder as wat hy lyk. Ek het my huispakkie aangetrek (lieflike, onvleiende oefenbroek en t-hemp), in die motor saam met die vader gespring en na die bestemming gery. Alleen in die saal met die bed het ek twee keuses gehad: wag vir hulp, of dra self. Ek dra self.
Ek moes al my innerlike krag saamspan, my nie-so-indrukwekkende armspiere uittoets en die bedraam met ’n valse selfversekerdheid aandurf. In die gang het ek tussen asemteue die ouetehuis se verpleegsters gegroet, die bedraam stywer onder my arm vasgeklem en gehoop en gebid dat ek dit tot by die motor maak. Ek het. Maar die dag was nie verby nie.
Eers moes daar gehelp word om die hele petalje teen ons motorhuis se dak op te hys. My arms (teen hierdie tyd effe lam) moes weer saamspan. Ek het my verbeel ek is Simson, my hare is hoeka nogal lank op die oomblik, en terwyl my pa van bo trek, het ek van onder gestoot. Done and dusted – ek praat van my, want die fisiese aktiwiteit het my klaar gemaak en vol stof.
Maar dit was net die begin.
Insident nommer 2: die sonpanele. Eers ’n bedanking aan ons borg, Eskom, waarsonder hierdie geleentheid nie moontlik sou wees nie.
Ek vermoed Eskom het verward geraak en begin nou beurtkrag as ’n videospeletjie sien, want sodra jy jou weer kry, het hulle ’n nuwe level bygevoeg. En game over wag vir ons almal. Swart skerms is ons al reeds gewoond. Maar nie in ons huis nie. O nee, ons het kragte met die son saamgespan om ons ligte 24/7 aan te hou (figuurlik, ons mors nie). Maar om die volgende vlak van Eskom te oorkom, moet ons linies versterk word. Nog sonpanele kort. En die gelukkige wenner om te help om dit op die dak te kry is, ja, die uwe ek.
Daar is onskuldige ek halfpad op teen die leer. Dié het volgens my maar bra onstabiel teen die huis se dak gerus. Na die bedraamscenario is ek gelukkig gekonfyt in die trek-stoot aksie wat nodig was om die sonpanele tot bo te kry. Op, op, op tot aan die bo-punt van die leer klim ek van waar my pa die storie verder oor die dak karwei. Die laaste paneel word aangegee, nes die leisels, en ek slaak 'n sug van verligting, want ons is klaar.
Nie so vinnig nie. Ek moet skielik ook op om met nog iets te help.
Spar vir spar bereik ek nuwe hoogtes. Maar nes ek die drumpel van leer na dak wil oorsteek, haak my broek. Daar is weer twee keuses: vorentoe, of val. In 'n wonderbaarlike ommekeer van geluk kry ek vastrapplek op die dak en beweeg handeviervoet tot waar ek moet help. Vir die wat wonder: Nee, hoogtevrees is nie iets wat jy sommer ontgroei nie.
En dan begin die uittog weer terug na moeder aarde. Buk-buk-bekruip sukkel ek oor die dak se nok. Dakteëls is glo sensitief en wil nie oor geloop word nie (ek kan vereenselwig). Soms moet jy ongemak verduur vir 'n gelukkige einde, want ons ligte bly vir eers aan, en my liggie skyn nog helder.
Toe kom die kabel. Insident nommer 3.
Daar moes ’n nuwe internetkabel deur ons dak getrek word. My pa, wat dikwels in dakke rondkruip, is siek, en ek is skielik eerste in bevel. Klim, sal ek weereens moet klim. My ou vriend, die leer, het my reeds in die gang ingewag. Saam met flashbacks na die sonpaneeldag bestyg ek met bewende bene die solder. Een akrobatiese rekbeweging later en ek delf in die dieptes van ons dak.
'n Paar dooie kakkerlakke het my welkom geheet. Hoe gaaf. En daar leer ek dat trapsuutjietrap op dakbalke heelwat moeiliker is as wat dit klink. Met elke beweging sien ek visioene waar ek deur die plafon foeter. Verder is die kinkel ook nog altyd in die kabel, want dié het nie genoeg slack gehad nie (weereens: ek kan vereenselwig). Maar ons druk deur totdat ek papnatgesweet – van adrenalien eerder as inspanning – terugdaal na benede.
Hulle sê goed gebeur in dries. So, die enigste hoop waaraan ek op hierdie stadium vasklou, is dat die einde van die jaar redelik naby is. Dalk, net dalk, sal ek dit tot by 2023 maak sonder om weer my senuwees te toets. Maar Murphy slaap nooit. Hy het geen beurtkrag nie, en hy lees en luister na alles wat ek sê.
Comments