Dis al weer daardie tyd van die jaar. Almal het skielik wakker geskrik en besluit om hulle oefenskoene af te stof. Daar moet oral kilo’s afgeskud word sodat dié weer tydens die Desembervakansie se Kersvieringe opgetel kan word. Die ekstra gewig sal gevolglik tydens ’n nuwejaarsvoorneme-belaaide Januarie wéér afgeskud word (daar sal minstens ’n poging aangewend word), hier teen middel-Februarie sal die voornemens finaal die trekpas kry, en dan wag ons maar rustig vir die lente waar die siklus homself sal herhaal.
By mý moes ek eerder my skootrekenaar afstof en my brein oefen om hierdie brokkie skryfwerk aan julle te besorg. Alhoewel my blog vir eers na die kantlyn moes skuif, was ek ongelukkig nie in hibernasie die afgelope paar maande nie, net besig met ander dinge. Een konstante was egter my (byna) daaglikse uurlange stapsessie deur die buurt. Ongelukkig kan ek nie sê dat ek soos een van daardie voorbeeldige Discovery-mense is wat my daaglikse 10 000 steps wil inkry nie. My hoofdoel, of doelwitte, is om 1) uit die huis te kom, en 2) te dink. ’n Mens sal hoop dat ek die res van die dag ook dink, maar dis gewoonlik aan baie meer onbelangrike dinge.
My daaglikse dinksessies is nou in gedrang. Skielik wemel die strate met elke Jan Rap en sy maat wat vir die volgende paar maande gaan uitbasuin fitness isn’t just a hobby, it’s a lifestyle. Alles goed en wel, maar nou moet ek die meeste van my breinkrag daarop spandeer om verby die massas te stap. As ek mense wou sien terwyl ek stap, het ek by ’n gym aangesluit, of net na die naaste winkelsentrum gery – daar kan jy in elk geval met jou oefenklere ronddrentel. Athleisure is al vir lank “in” – nie dat ek die oversized t-hemp en sweatpants waarin ek stap as deel van dié modetendens sal beskou nie. Miskien kan ons dit soos distressed denims bemark?
Wat egter nie “in” is nie en nooit sal “in” wees nie, is die ongemaklike interaksies wanneer jy verby al die mense op straat moet loop. Dit verg talent en deursettingsvermoë om die proses af te handel. Eers loop jy doelgerig voort, dan – nie te vroeg nie, maar ook nie te laat nie – maak jy blitsig oogkontak, knik jou kop of lig ’n hand, en dan is jy weer op pad. ’n Sug van verligting ontsnap by jou mond, want jy het dit ongedeerd verby een persoon gemaak. Totdat die volgende een skielik om ’n hoek verskyn en jou onkant betrap.
Die groetproses het wel ’n paar haakplekke. Kyk jy te vroeg, kyk hulle nie vir jou nie. Dan is die vraag of jy moet aanhou kyk en lyk soos een of ander creep, of moet jy net voor jou kyk en hulle laat dink jy is iemand wat nie groet nie. Dan is daar natuurlik ook die ander stappers wat jóú nie groet nie en laat wonder of daar iets met jou fout is. Ek het al selfs iemand teëgekom wat my gesien het, net daar anker aangeslaan het, summier ’n u-turn gemaak het en weer in dieselfde rigting van waar hulle gekom het, verdwyn het. Verwerping maak seer, al was ek semi-bly om nog ’n ongemaklike kopknik-situasie te vermy. My nek begin al daaronder ly.
As deel van my wapenrusting dra ek ook altyd my oorfone. Deels om musiek te luister, maar grotendeels om te dien as teken dat ek nie daar is vir geselsies nie. In ons liewe land maak ek wel altyd seker om steeds te kan hoor wat om my aangaan, want iemand wat my skielik vanuit ’n bos beskruip, is nie deel van my toekomsplanne nie. Iemand wat my in enige situasie bekruip, is nie deel van my planne nie.
My taktiek om spontane kuiersessies op straat te vermy, werk ongelukkig nie altyd nie. Ek is ’n ruk terug só deur ’n man voorgekeer wat vir my allerhande goed vertel het – waarvan ek net die helfte kon hoor, want hy het ’n hele paar tande gekort – waarna hy my ook allerhande goed gevra het. Dié vrae het ek soos ’n smooth criminal tydens ’n polisieondervraging met ’n variasie op “no comment” vermy. Hy wou onder meer weet of ek nog op skool is. Of ek dit as ’n kompliment of ’n belediging moet sien, weet ek nie, maar ek het dit eerder as ’n bedreiging beskou en heel flink my pad terug huis toe gevind.
Een van die onbelangrike dinge waaraan ek intussen dink, is dat ons dalk ’n nuwe fiksheids-foefie kan patenteer: Introverte moet weghardloop van mense wat onverwags met hulle wil praat, of onskuldige stappers moet vlug van vreemdelinge met veels te persoonlike vrae. Albei sal my motiveer om my te verbeel ek is terug op die laerskoolatletiekbaan in die dae toe ek (regtig) fiks was en die stukke kon insit tydens die 100m. Hoe dit ook al sy, ’n mens kan nie altyd van jou probleme weghardloop of -stap nie. Ek sal maar my lot verduur todat die ekstra stappers se motivering in die somerson opdroog.
Comments