Ek sit een aand en granate ontpit. Vir diegene van julle wat dit nog nie probeer het nie, sou ek dit sterk aanbeveel. Die hele morsige affêre is soos 'n vorm van meditasie, én jy kan dit boonop eet. As die ontpittingsproses nie jou hart vinniger (of eerder rustiger) laat klop nie, behoort die voordeel van 'n peuselhappie wel?
Iedergeval, terwyl ek nou daar sit en staar na my rooigevlekte hande wat al meer lyk asof iemand my toe uiteindelik tot moord gedryf het, dink ek aan die storie van Persephone in die mitologie en die jammerte dat 'n mens nie méér op skool oor mitologie leer nie. If all else fails dan doen jy dit maar self. Of ek doen dit vandag sommer vir jou.
Persephone moes mos vir arme Hades in die onderwêreld gaan geselskap hou. Nes Adam kon dié vent dit ook nie alleen uithou nie. Selfs nie man's best friend, sy woef, die driekoppige Cerberus, was goed genoeg nie. Ons kan maar net spekuleer dat Cerberus bra drie-bekaf daaroor was. Verwerping is vir niemand maklik nie. As kantnota moet ek noem dat dit net 'n bedekte seëning is die mite het 'n hond eerder as 'n kat gekies. Ons almal weet katte volg hulle eie kop, so as daar dríé koppe was wat die gedierte kon volg, sou dit 'n nuwe definisie aan die woord "hel" gee. Bygesê, Hades sou met al daardie gevolglike chaos nie tyd gehad het vir 'n beter helfte nie en Persephone was dan dalk nog 'n single pringle.
Ons moet darem ook vir Hades opkom. Die man is net misunderstood. Hy word heeltyd misgis as die god van die dood, maar hy is in werklikheid die god van die dooies. Dís hoekom jy in jou taalklas moet oplet: Een klein woordverbuiging maak 'n groot verskil. Nou, shame nè, dit moet 'n vrot werk wees om na al die afgestorwenes om te sien. Kan ek sê: sieldodend? G'n wonder hy het 'n warmbloedige vrou langs sy sy gesoek om 'n bietjie lewe aan die plek te gee nie.
Dis alles eintlik Zeus se skuld. Zeus, die OG daddy wat met alles en almal gelol het (as jy weet wat ek bedoel) het binne sy onderduimse natuur gekonkel om vir Persephone langs Hades se sy te kry. Nadat Persephone die granaatsade wat Hades haar aangebied het, geproe het, is sy verplig om helfte van die jaar in die onderwêreld saam met hom deur te bring. Ons kan maar net aanneem die hoeveelheid antioksidante wat die wondervrug haar kon bied, was een te veel om te weerstaan – anders as Hades wat haar klaarblyklik nie met 'n natuurlike sjarme kon oorwen nie. Die man kort game.
Gelukkig kan Persephone elke lente weer 'n bietjie asem skep in die gewone wêreld. Haar aankoms word gekenmerk deur die lentebloeisels in bot, terwyl haar terugkeer na die onderwêreld tydens die herfs simbolies is van alles wat "doodgaan". Dalk is ek net 'n sucker vir verganklikheid, maar daar is niks vir my so mooi soos herfsblare nie. Sodoende sal ek maar in die stilligheid vir Hades bedank dat hy vir Persephone gegaps het as dit beteken ons (ek) kan die verandering in seisoene geniet. Maar voordat iemand my cancel, ek glo wel in consent. Miskien as hy Persephone net mooi gevra het, sou sy tog instem. Wie weet? Dalk sit sy nog heeltyd met 'n redder-kompleks en sou sy die geleentheid te graag aangryp.
Hier is waar my gedagtestroom en die granate waarmee ek besig was, stop. Later is die granaatpitte in kleiner groepies verdeel om te vries. Te veel van 'n goeie ding (op een slag) is nie goed nie. Vra vir Zeus wat gereeld in die moeilikheid was oordat hy so bedrywig was. Ekself het wel nié afgedaal na 'n donker en duistere plek nadat ek eers 'n paar pitte opgeëis het as beloning vir my dienste nie. Beteken dit ek is reeds in die onderwêreld? Indien wel: voorwaarts mars. Boontoe is al opsie wat oorbly. Dalk lê my lente, en blomtyd, nog voor.
Oulik! Die granaatskrywer! Wel gedaan!! Nogal lekker in pienk gin! Gee dit 'n lekker geurtjie!😀