top of page
Writer's pictureCorine Raath

’n Dans met die dood

Ek was onlangs al weer amper dood. Ek sê al weer, want die hoeveelheid keer wat dit nou al gebeur het, raak belaglik, en effens afgesaag. Waar is die oorspronklikheid liewe lewe?


Hierdie keer sou dit death by sweefrak wees. Absurd, ek weet. Maar as ek dan nóú al moet groet, kan dit seker met ’n bang wees. Teen die kop. Van bo af. Wanneer al my boeke en die sweefrak tegelykertyd na onder donder. En dan nog met ’n potplant agterna vir dramatiese effek. Dit sou vreeslik ironies wees as ek deur my eie boeke na die hiernamaals gepos word aangesien ek my brood en botter met die skryf daarvan wil verdien. Dit klink wel soos ’n storie wat enige koerant sal opslurp. My big break?


Gelukkig het ek die dag voor die “insident” met ’n ander paar tekkies gaan stap en dié het my die groot geskenk van ’n lieflike blaas op my regterenkel gegee. Nou, dankie tog vir voetbeserings, want terwyl ek opstaan om die nuwe besoeker op my voet aan my ma te wys, het die rak besluit dis tyd om al laer en laer te begin hang. Anders was dit dalk nou bokveld toe met my, of ’n ernstige geval van harsingskudding – en daarvan het ek reeds ervaring. Een keer was genoeg. Dis op hierdie oomblik wat ek my beskermingsengel moet bedank. Hy of sy (of dalk is engele ook gender neutral) het werklik hul hande vol om te verseker ek bly vir eers aan op die aardbol.


Nietemin, na die effense opskudding was daar belangriker dinge om oor te bekommer. Soos om ’n gewone boekrak in die huis te verplaas. Nie dat hierdie een enige skade kon aanrig waar hy was nie, behalwe om afbreek te doen aan die estetika. Skandalig. Natuurlik is hierdie pakplek ook oorlaai met leesstof en vis ek eers deur die verskeidenheid – van feetjieboeke tot chopin-musiekstukke. Interessant genoeg om my aandag van my ander probleme af te trek. Intussen ontdek ek ook dat my skoonma-se-tong-plant wat buurman gespeel het met die boekrak ’n hele laag stof versamel het in die afgelope tyd. Van stof tot stof. Dalk lê ek ook eendag op ’n blaar. Maar nog nie nou nie.


’n Groter skok as my noue ontkoming met die dood was wat agter die boekrak geskuil het. As ek meer guts gehad het, het ek ondersoek ingestel, maar maak maar self jou keuse uit die lys opsies: muisdrolletjies, spinnekopneste, of ’n onbekende “iets” wat lank terug reeds gesterf het. Wat ook al dit was, was êrens in limbo tussen lewe en dood. Is ons nie almal nie? Soos die mense op sosiale mense sê in these dystopian times


Boekrak geskuif en dood vermy, is ek terug na my rekenaar met ’n paaseier en koffie in die hand. Ek het ’n navorsingsvoorstel wat wag. Time waits for no man, en beslis nie vir getraumatiseerde studente nie, maar ’n mens moet die lewe se klein plesiertjies, soos paaseiers, geniet. Terwyl jy nog kan.

30 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page