Toe ek vanoggend my Netwerk24-toep oopmaak en sien dat Schalk Schoombie oorlede is, het ek geweet die Afrikaanse letterkunde- en kunswêreld het een van sy legendes verloor.
Ek het nog net twee van Schoombie se romans gelees, maar die indruk wat sy werk by my geskep het, sal my vir altyd bybly. Myns insiens het Schoombie 'n baie groter naam in die Afrikaanse bedryf verdien as die nederige rol wat hy ingeneem het. Baie van ons groot figure in die geskiedenis word eers waardeer ná hul afsterwe: Van Gogh, Sokrates wat 'n publieke teregstelling gehad het, ons kan seker selfs vir Jesus só kategoriseer. Ek kan nie help om te wonder of dieselfde met Schoombie gaan gebeur nie.
Sommige mense dink dalk Schoombie was "agter die tyd" met sy keurige Afrikaans en sy erns met woorde. Ek glo hy was ons voor. Hy het kennis bymekaar gemaak soos 'n kraai wat stukkies goud tussen rommel kan raaksien en oppik. Schoombie het verstaan wat baie van ons al vergeet het, of nog nooit besef het nie: Om te lewe, beteken om nooit (intellektueel) te stagneer nie.
In 2021 gee my ma vir my een van Schoombie se romans, Boomkastele (2015), om te lees. Op die omslagontwerp lees 'n byskrif: 'n Sprokie vir 'n Stadsmens. En nes die kindersprokies wat ek kleintyd gelees het, het hierdie roman my meegevoer na 'n ander wêreld vol wonder en waarheid. Met die woordspeling op die woord "lugkastele", wys Schoombie op 'n spitsvondige wyse hoe ons as mense dikwels tot ontstellende en dikwels belaglike gevolgtrekkinge kan kom oor hoe ander se gedrag op ons gemik is. Egosentrisme is waarskynlik die nuwe virus.
Boomkastele handel oor 'n afgetrede navorser wat daarvan oortuig is dat sy bure aspris hul twee reusagtige bome laat afkap het om hom na te kom. Vanaf hierdie "traumatiese" gebeurtenis is die navorser daarop uit om sy bure terug te kry. Come hell or high trees, want die navorser maak dit sy lewensdoel om 'n boom te plant wat so vinnig as moontlik en so groot as moontlik kan groei.
Navorsing is sy forte, en hy kry dit ook reg om hierdie bielie van 'n boom te vind en in sy tuin aan te bring. Die boom groei en daarmee saam ook die navorser én sy bure se probleme. Die boom bemors nie net met sy blomme die navorser en bure se erwe nie, maar lok ook die aakligste insekte. Later moet die navorser selfs die hulp van 'n boomfluisteraar (tree whisperer) inspan. Uiteindelik groei die navorser se waansinnigheid saam met die boom en hy bou vir hom 'n reuse boomhuis waarin hy begin woon. Hoog in die takke, sonder die drank.
Terwyl die navorser besig is met sy eskapades, is sy dogter, 'n misdaadverslaggewer, op die spoor van 'n graffiti-kunstenaar wat Da Vinci se Vitruviaanse Man op stadsmure verf. Sy word blootgestel aan die gevaarlike wêreld van die donkerweb, met ons white hats en black hats: die balans tussen die goeie en slegte in die samelewing en hoe grys die onderskeid soms is.
Hierdie skets deur Da Vinci gaan oor die perfekte afmetings vir die man, byna soos Nietzsche se Übermensch, en dit beeld ook die balans tussen kuns en wetenskap uit – 'n balans wat deur Schoombie in sy letterkunde nagestreef word én bereik is. Jy sien, Schoombie het 'n talent om stories soos 'n koeksister te vervleg wat 'n stroopsoet nasmaak agterlaat. So-ook kry jy in Boomkastele nie net een tema nie, jy kry 'n hele wortelnetwerk. En nes regte bome wat ondergronds met hul wortelstelsel met mekaar kommunikeer, kry Schoombie dit reg om die temas in sy boek met mekaar in gesprek te laat tree.
Nog 'n roman waar Schoombie verskillende temas soos 'n lappieskombers aanmekaar stik, is in sy krimmie Rooi haring (2017). In hierdie roman word die bombastiese Hartman Swiegers, 'n topsjef, se lyk in sy restaurant se yskas aangetref. Die grootste leidraad is die rooi haring-vis wat by hom gelê het. Van die begin af is 'n mens as leser dit met die karakters eens: iets is fishy. Maar 'n vis vrot van sy kop af. So watter kop het die meesterplan bedink om vir Swiegers in te katrol en van kant te maak?
Die resep vir hierdie roman bestaan uit:
1 lyk
1 rooi haring
'n dinner party-groep
'n skeut of twee suspisie
en 'n hele verlede vol geheime
Meng alles saam, gooi dit in 'n oondvaste bak en plaas dit in die oond vir 4 uur teen 100°C sodat alles stadig kan prut. Voor jou oë sal dit ontvou in die eindproduk: 'n tong-in-die-kies misdaadroman waar lesers op 'n oseaan van leidrade dobber en moet lyn uitgooi om te kyk wie as moordenaar aan hul spekulasies byt. Al raad wat ek jou kan gee as jy wil raai wie die skuldige is, is: Swem, Jannie, swem, want dit is nie wie jy dink dit is nie.
Kyk, ek kan jou lank besig hou met hoe fantasties die boeke was, maar al wat ek eintlik wil sê is: Gaan lees dit. Selfs al moet jy stop om 'n woord of twee, of honderd te gaan oplees. Een van die grootste lesse wat ek deur letterkunde geleer het, is dat dit geen verskoning is om te sê iets is bo jou vuurmaakplek nie. Elke nuwe ding wat jy leer, is nog 'n stuk hout vir jou eie vuur. En ek stook veel eerder my eie vuur as die kwaad.
Aan Schoombie wil ek sê: Dankie. Sy ontsaglike hoeveelheid kennis het my daaraan herinner hoeveel ek nog kan leer en hoeveel ek nog kan, en moet, lees. Ons leef in 'n generasie wat hoofsaaklik wil ervaar: Ons kyk na TikToks en Netflix, ons luister na podgooie en musiek. Maar hoeveel neem ons werklik in? Hoeveel leer ons? En hoeveel van dit wat ons inneem, gebruik ons om self iets betekenisvol tot stand te laat kom?
コメント