Victor Pinchuk skryf: “Art, freedom and creativity will change society faster than politics.” Covid het die kunste byna onmoontlik gemaak. Politiek was daar wel, te veel as jy my vra. En in hierdie tyd van chaos, vrees en algehele onsekerheid is kuns, (veral!) vryheid en kreatiwiteit na die kantlyn verskuif. Verban vir wanneer ons nie meer “ernstige sake” het om te hanteer nie.
Maar die ding is: Kuns is ernstig. Kuns kan die samelewing reflekteer. Kuns kan die samelewing verander. Hoeveel keer is jy nie al beïnvloed deur ’n boek, ’n TV-reeks, ’n foto of ’n liedjie nie? Dis in kuns waar ons onsself, maar ook ander gaan vind. En soms vind jy juis dit wat jy probeer vermy: Wanneer ’n sin in jou storieboek net ’n bietjie te na aan die been kom sny, of jy nie die irriterende traan gou genoeg kan keer as jy na ’n sekere liedjie luister nie.
Ek was onlangs bevoorreg om weer die teater en ’n literêre fees te kon besoek. My eerste pitstop was aan die Kunstekaap vir toneelstukke deur Hoërskool Bellville (my Alma Mater) en Hoërskool Paarl Vallei. Iets wat ek opgemerk het tydens die optredes is 1) die gebruik van multi-media, en 2) die gefragmenteerde aard van die toneelstukke. Vir my het dit uitstekend aangesluit by die samelewing wat al meer hibried en gefragmenteerd word met globalisasie en natuurlik die wêreldwye konneksie wat ons deur middel van sosiale media het. Die fragmentasie wys natuurlik ook op die ander kant van die munt: die probleem van identiteit wat nou “in stukke” is. Almal wil êrens inpas, maar dit voel asof dit al moeiliker word.
Die idee van identiteit is verder gevoer by my tweede stop – die Literary Festival in Franschhoek waar ek drie praatjies bygewoon het. Hier was die sterk feministiese ondertoon van die gesprekke opmerklik. Die eerste praatjie was getiteld The Female Line met Yewande Omotoso wat in gesprek was met Tsitsi Dangarembga en Sindiwe Magona. Een van die sinne wat Magona gesê het, is dat die grootste probleem in ’n samelewing is wanneer die mense nie meer hoop het nie, maar meer nog, indien hulle nie hoop het dat hulle ooit hoop sal hê nie. Met ander woorde: wanneer iemand nie kan indink dat daar ’n goeie toekoms vir hulle voorlê nie. Hoeveel van die jeug voel nie só nie?
Een verdere gesprekspunt was grense en die ruimtes waarin ’n mens jouself bevind, en die probleem wat ontstaan wanneer jy nie in ’n spesifieke ruimte aard nie, óf moet voorgee dat jy daar aard. Tydens my derdejaar op universiteit moes ons Coconut (2007) deur Kopano Matlwa lees wat myns insiens baie goed die probleem verwoord wat baie swart jeug (en ander ouderdomme) in die gesig staar. Hierdie kwessie geld natuurlik nie net vir swart mense nie: Dit gaan hoofsaaklik daaroor wanneer wie jy is, nie versoenbaar is met waar jy is nie. Dikwels gaan die ervaringe gepaard met ’n gevoel van skuld of skaamte. Enigiemand wat ’n bietjie sielkundekennis het, sal vir jou sê dat hierdie twee emosies jou baie kan benadeel.
’n Voorbeeld wat geopper is in terme van hierdie wrywing tussen ruimtes en identiteit, is van swart mense met “private school English” en hoëvlakonderrig wat nie meer aanvaar word deur dié in die plakkerskampe nie. Wat doen jy as dit waarvoor jy so hard geveg het (soos kwalifikasies) jou op die ou end van ander, wat veronderstel is om “jou mense” te wees, vervreem? As ek dit meer universeel kan stel, is dit kwessies soos: wie woon aan watter kant van die snelweg, wie het sportsmotors, wie het genoeg titels of grade. Alles in die lyn van #youcantsitwithus en omgekeerd, want nou het jy volgens “die ander” skielik te lanie geword vir jou roots.
Dit gaan nie net oor verskille in onderrigvlak of inkomste nie. Ongeag van hoe globaal die wêreld geraak het, bly kultuur en tendense ’n realiteit. Grense het op ’n manier vervaag, maar hoe meer jy met ander te doen het, hoe meer besef jy ook watter idees/maniere/gebruike/ens. is eie aan jou en jou leefwyse. Byvoorbeeld: Indien jy as Suid-Afrikaner emigreer, gaan jy nie ’n Suid-Afrikaner oorsee kan wees nie. When in Rome moet jy aanpas. Maar ook: As jy as Suid-Afrikaner die wêreld gaan sien en weer terugkom, gaan jy waarskynlik ook nie meer heeltemal in Suid-Afrika inpas nie. Hoekom? Jou verwysingsraamwerk het verander. Jy sien dit op kleiner skaal in jou eie land aan mense wat uit hul tuisdorp/woonbuurt/stad beweeg het. Hulle kyk net anders na die wêreld.
Om weer by die tema van grense aan te haak, is die feminisme hervat by my laaste stop: die Nasionale Toneelspelkompetisie. Van die agt finaliste het twee meisies Antjie Krog se gedig “ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster” opgevoer met die versreël “ek is ’n vry fokken vrou” wat oor die gehoor weergalm. Feminisme is steeds hoog mode, en ek sê spesifiek mode, want sommige dra dit net as erebalkie sonder om enigiets te doen aan die samelewing (selfs net om hul eie gedrag aan te pas). Ek dink vrouens en mans (en non-binary en dies meer) is ook vasgevang in wat presies nou deesdae van hulle verwag word. Ook hier is die grense al meer onduidelik én onwelkom. Die groter vryheid het, op ironiese wyse, baie mense se vryheid beperk.
Hoe vind ons die balans? Hoe kan jy uniek wees en steeds ruimte laat vir groepsidentiteit? Dalk moet ons kleiner ruimtes binne-in groter ruimtes skep waar ons meer onsself kan wees. Of dalk is dit eerder die gesindheid wat moet verander. Miskien gaan dit minder oor die afbreek van grense en meer oor die opbou van selfvertroue in almal om hulself te kan wees, en dan, omdat hulle nie bedreig voel in hul eie identiteit nie, ook ander toelaat om hul ware self uit te leef.
Commenti