top of page
Writer's pictureCorine Raath

Resensie: Griet skryf 'n Sprokie – Marita van der Vyver

Griet skryf ’n Sprokie deur Marita van der Vyver is een van daardie boeke waar jy dikwels veel meer stories óór die boek hoor as wat jy hoor oor die storie ín die boek. Hierdie berugte boek lê al ’n geruime tyd op my boekrak nadat dit vir ’n volle R15 tweedehands aan my verkwansel is. Dit was tyd. En glo my: R15 is beslis nie al wat hierdie boek werd is nie.


Ek het myself daarop voorberei om diep geskok te wees met die "woeste" inhoud wat my te wagte is. Seks. Dís wat in die boek aangaan. Of so sê “hulle”. Dalk is ek deel van die samelewing wat so ge-desensitise is deur al die “woeste” films en boeke dat die boek ’n vulletjie is in vergelyking met die res.


By voorbaat moet ek noem dat ek nie ’n voorstander is van reekse soos Euphoria nie. Die tipe verhoudings wat deur die media voorgestel word, is myns insiens ’n groot bydraende faktor tot die huidige verhoudingskultuur, of tekort daaraan. Dis hoe phases, side pieces, sneaky links en dies meer. G’n wonder mense se geestesgesondheid is in die gutter nie. Om tot side piece afgegradeer te word, is die verhoudingsekwivalent van rommelstatus as jy my vra.


Dan is daar ook die feit dat sommige van die moderne films of reekse baie naby aan pornografie neig, indien dit nie reeds deel daarvan vorm nie. Nietemin is sekstonele nie meer die taboe wat dit was nie, as jy nou maar kyk na die nuwe reeks Seks in Afrikaans wat ek (dankie tog!) nog nie onder oë gehad het nie. Ons moet ook in ag neem Griet skryf ’n Sprokie het in 1992 op die rakke verskyn. Beslis deel van “konserwatiewer tye” – op die oppervlak. Wat agter toe deure gebeur, gebeur daar vir ’n rede.


Die tema van seks is op sigself nie die probleem nie. Dis die benadering. Tydens een aandlesing van my kreatiewe skryf-klas het ons ’n gesprek gehad oor die skryf van ’n sekstoneel. As jy hieroor wil lag, dink weer. Daardie aand het ek geleer dat daar selfs ’n prys is vir die slegste geskryfde toneel, en as ek kyk na van die uittreksels wat ek al van Fifty Shades of sommige Wattpad-stories gesien het, kan ek sien hoe mense baie ernstig vir die eerste plek kompeteer.


In Griet is die benadering baie meer genuanseerd. As jy ongemaklik voel met hoe tonele geskryf is, is dit waarskynlik eerder ’n probleem van persoonlike gemak as wat Marita se aanslag verkeerd is. Jy sal die boek egter geringskat indien jy slegs by die sekstema vashaak. Dit vorm ’n tipe “goue draad” deur die verhaal, maar in wese is die boek eintlik ’n metatekstuele werk – dit lewer kommentaar op literatuur. Met die geel omslag kan ek nie help om te wonder of Bibi Slippers se goudgeel digbundel Fotostaatmasjien (2016) (wat ook baie metatekstueel is) hiermee in gesprek tree nie.


Die voorblad met 'n kaal vrou al ryende op 'n zebra (nogal agterstevoor!) was reeds 'n waagstuk.

Die verhaal gaan oor Griet wat self wil skryf. ’n Sprokie, soos jy hopelik van die titel kan aflei. Griet vra ook waarom skryfwerk so ernstig geword het. Waarom kan mense nie meer spot oor die politiek of sosiale kwessies nie? Hoekom is alles net derms uitryg van voor tot agter? En nou vra ek in antwoord hierop: Is dit nie maar nog steeds so nie?


Vandag se samelewing is soms hipersensitief. Ek praat nie hier van wanneer mense rassistiese, klassistiese of watter -istiese uitlatings ook al maak nie. Jy moet deesdae jou woorde (in die algemeen) só mooi tel dat jy later niks sê nie, en durf jy oor goed spot, probeer jy die saak afmaak. Die sielkundige Jung het dikwels vir Schopenhauer aangehaal wat gesê het dat humor die enigste “divine” of heilige element in die mens is. Vir Jung was dit ook belangrik dat sy pasiënte die humor in situasies moet sien. Mag ons as samelewing nog lag, of is die kollektiewe psige al so beroerd?


Die boek is in vele opsigte voor sy tyd gewees. Ondanks die humoristiese aanslag is daar die tema van miskrame wat met baie deernis behandel word. Verder is daar ’n lesbiese sussie, egskeidings en ander mislukte verhoudings. Die dialoog is ook deurspek met sleng wat dit baie minder aansitterig maak as wat sommige Afrikaanse skrywers se werk soms is. En tussendeur verweef Marita verskeie interteks met dele uit musiek, die Bybel, ander literatuur, en verskeie aanhalings.


Dit is ook in baie opsigte ’n feministiese werk met vrae rondom ouderdom, nalatenskap, jou loopbaan. Word die vrou steeds vervlak tot pasmaat, ma, vrou agter die stoof, iemand begeerlik totdat die tyd jou skoonheid steel? Wat bepaal jou waarde? Al hierdie vrae probeer Griet self uitwerk. Soms met behulp van haar skryfwerk, soms met behulp van haar sielkundige of vriende en familie. Maar daar is altyd humor. ’n Lag met ’n traan. Die waarheid wat hande vat met spot.


Die boek is definitief een wat steeds, na 30 jaar, nog relevant is. Ek sal dit vir enige iemand aanbeveel wat met 'n oop gemoed die verhaal wil aanpak.


Telling: 4/5


42 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


Post: Blog2_Post
bottom of page