top of page
Writer's pictureCorine Raath

Die vyand in die vertrek


Wat is die twee emosies wat die negatiefste gevolge vir jou inhou?


Dít vra my ma my nou die dag nadat sy op die radio gehoor het hulle gaan die boek The Body Keeps the Score: Brain, Mind, and Body in the Healing of Trauma (2014), geskryf deur Bessel van der Kolk, op die radio bespreek. Te danke aan my belangstelling in sielkunde kon ek in my brein rondgrawe om die twee emosies uit my geheue op te diep: skande (shame) en skuld (guilt).


Dit is opmerklik hoe baie aandag trauma en traumaverwerking in die afgelope paar dekades gekry het. Veral kindertrauma (childhood trauma) word op sosiale media in die kollig geplaas. Kyk maar net na al die TikToks wat jou leer oor jou traumareaksies – veg, vlug, vries en fawn. Dan is daar natuurlik ook die attachments styles wat jy op grond van jou kinderjare ontwikkel, soos anxious of avoidant. Alhoewel inligting op hoofstroom sosiale media, eintlik énige sosiale media, met ’n see sout geneem moet word, lees (of kyk) ek elke nou en dan iets baie interessant raak.


Ek het ’n paar jaar terug die term religious trauma raakgescroll – ’n tipe trauma wat baie nou verband hou met die emosies van skande en skuld. Die idee is dat religieuse instellings mense breinspoel en probeer manipuleer deur op hulle gevoel te speel – veral deur vir die mense te leer hoe sleg en sondig hulle is. Voordat ek verder vertel, moet ek eers noem dat hierdie skrywing nie ’n kritiek teen gelowe of geloofsinstellings is nie – dis eerder ’n bewusmaking dat alles in die lewe ’n donker en ligte kant het en dat jy net in die lig kan lewe as jy ook bewus is van die donker.


Verlede jaar lees ek An-Mari do Carmo se debuutjeugroman Toe als groen was (2022). Die boek handel oor ’n tienermeisie genaamd Marné. In die roman word daar vertel van haar ervaringe as deel van ’n geloofskultus, die verskriklike dade wat deur die geloofsinstansie toegesmeer word, en Marné se groot stryd om by die “gewone lewe" in te skakel nadat sy uit die kultus ontsnap. Hierdie verhaal is nie uniek nie in die sin dat daar eintlik baie meer mense by kultusse betrokke is as wat hulle self besef. En alhoewel die woord cult ook deesdae ’n tendens geword het, is die mag van geloofs- en ander instansies, of mense in outoriteitsposisies, so oud soos die berge – so oud soos die Sinaiberg as ek dan nou op die golf van geloof bly ry.



Toe als groen was deur An-Mari do Carmo

Die kerk en ander soortgelyke instellings het in die geskiedenis dikwels een van die magtigste posisies in die samelewing beklee. Kyk maar na iemand soos die Pous en die feit dat daar dikwels bande tussen die staat en kerk was/is. Soos die spreekwoord lui: With great power comes great responsibility, en wat ons ongelukkig sien, is eerder gevalle van great manipulation.


Ek kyk so paar weke gelede episodes van The Last of Us (2023). Die reeks gaan oor die post-apokaliptiese tyd nadat ’n groot virus uitgebreek het (klink nogal bekend!). Sonder om te veel weg te gee, is daar in een episode ’n man wat as 'n religieuse leier vir ’n groep mense optree. ’n Mens kry egter gou snuf in die neus dat hy nie net love and light is nie. Soos die man self later bieg: Die mense het iets nodig in die post-apokaliptiese tyd om aan vas te klou. In hierdie geval gee hy vir hulle geloof, alhoewel hy self nie werklik glo nie. Sy motiewe is duidelik. Dit gaan nie daaroor om die mense te red nie, dit gaan oor die mag wat sy posisie as “vader van die gemeenskap” vir hom bied. Michel Foucault, die Franse filosoof, was reg – alles gaan oor mag. As jy mag het, kan jy doen wat jy wil, want mense gaan jou volg of hulle moet jou volg, want as hulle dit nie doen nie, het jy die middele om hulle stil te maak, letterlik of figuurlik (#cancelculture anybody?).


Nog 'n term uit die sielkunde is trauma bonding. Een van die bekendste dinamikas hiervan is tussen narsiste en empaths. Dieselfde tipe traumaband word gesien tussen die man in The Last of Us en sy “kudde”. Traumabande is byna soos ’n simbiotiese verhouding waar die een persoon nie sonder die ander persoon kan leef nie. Dieselfde kan gebeur waar 'n persoon se identiteit so ingebed is in hul traumatiese agtergrond dat dit onmoontlik lyk om 'n identiteit daarsonder te skep. Dis bitter moeilik is om ’n traumaband te breek, of om enige trauma, veral kindertruama, te verwerk. Die probleem is grotendeels dat die omstandighede waarin die slagoffer(s) hulself bevind, bekend is. Dis gemaklik – selfs al is dit sleg.


Gemak word keer op keer bo geluk gekies. Die ongemak en die moontlikheid dat mense jou gaan afskryf indien jy ’n verandering in jou lewe maak, lyk dikwels na ’n te groot opoffering as om vas te klou aan destruktiewe beskermingsmeganisme, mense of instellings. Diegene wat dit wel regkry om weg te breek, van kultusse, toksiese gesinsdinamikas, slegte omgewings en dies meer, word gereeld uitgekryt as die sondebok – die onskuldige persoon waarop ander hul woede en ander emosies kan projekteer.


Maar hoekom?


Die ander mense is bang. Hulle is bang, want indien een persoon kan wegbreek, kan ander ook. En as almal skielik hulle eie besluite kan neem, sal die persoon in die magsposisie nie meer sy volgelinge hê nie. Daardie persoon sal jou nie meer met skande en skuld kan beheer nie, want jy het bo dit uitgestyg. Soos die TikToks sê: You’re standing in your power. Jy het nou jou eie mag geskep.


Ek wil afsluit deur te verwys na ’n ander boek wat ek vroeër vanjaar gelees het: God en die gode van Egipte (2009) deur Willie Esterhuyse. Die boek gaan hoofsaaklik oor hoe baie van die verhale in die Bybel ooreenstem met ou Egiptiese mites. Ek gaan my nie hier uitspreek oor die geloofwaardigheid van die boek of van die Bybel nie, maar waarna ek wel wil verwys is Esterhuyse se voorwoord in die boek. Hy praat hier van sommige mense in die religie met wie hy te doen gehad het wat ongelooflik eiewys was. Hierdie mense het die idee gekoester dat nét hulle die waarheid beet het en dat almal anders verkeerd is. Kortliks – hulle het ’n verstommende egosentrisme en hoogmoed.


Dit is grotendeels sulke mense soos wat Esterhuyse teëgekom het wat ons in magsposisies vind. En dit is bitter gevaarlik om na so 'n tipe persoon se pype te dans. Ons het in ons gesin so paar keer al verwys na die sêding dat intelligente mense net die helfte van inligting glo, maar wyse mense weet watter helfte om te glo. Waarop dit neerkom, is wat hulle in Engels van praat as discernment. Ek beskou discernment as die vermoë om deur inligting te sif – eintlik maar wat navorsers (veronderstel is om te) doen. Ek hoop dat almal op soek sal bly na die waarheid, die ware helfte van inligting – veral mense wat in hul verlede gegaslight is aangesien dit jou vermoë om in jouself en in jou intuïsie te glo, kan kniehalter.


Ons almal het die reg om na antwoorde te soek, om vrae te vra, om mense in outoriteitsposisies uit te daag. En al verg dit bravado om jou stem te laat hoor en veranderinge in jou lewe te maak, sal die pyn van daardie ongemak altyd minder wees as die spyt dat jy nooit ’n egte lewe kon lei nie. Moet nooit bang wees om vyande te maak nie, want: “A man with no enemies is a man with no character.” ― Paul Newman.


32 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page