top of page
Writer's pictureCorine Raath

Pink eye probleme

Toe ek gesê het ek is siek en sat vir hierdie semester het ek dit beslis nie letterlik bedoel nie. Ongelukkig het die lewe ander planne met my gehad en minder as ’n week later lê ek soos kiepie siek in die bed.


Sommige goed is altyd in oorvloed in my lewe: werk, stres, koffie en sedertdien ek ’n motor gekry het, motorprobleme (dis ’n storie vir ’n ander dag). Die een ding wat ek genadiglik nog altyd vrygespring het, is siektes, behalwe vir die rare verkoue.




Toe pink eye my hierdie week met wraak tref, het ek egter besef dat ek asseblief nooit moet hoog raak nie – bloedbelope oë is beslis nie 'n goeie look vir my nie en ek moet ook nooit begin rook nie – ’n rasperige stem klink dalk vir jou sexy, maar ek klink bloot soos iemand wat sukkel om genoeg asem te kry.


Ek is in die algemeen ietwat van ’n kluisenaar en kan soos ’n regte spioen deur die koshuis sluip, maar nadat jy vir twee dae in ’n 3 by 4-meter kamertjie vasgevang is, begin jy effens, net so effens, van jou kop afgaan. Die ooglopende oplossing sal wees dat ek net na buite moet gaan, maar nadat een te veel verbyganger my en my rooi oog met afgryse aangestaar het, het ek besluit dis tog beter om myself tot die vier mure van my kamer te beperk. Die afsondering het aan my bewys dat jy werklik net soveel Youtubevideo`s van mense wat kosse van verskillende lande proe, kan kyk (moet eerder nie vra nie – desperate times call for desperate measures).


Soos enige siek mens, moes ek myself tydens hierdie swaar tyd verskriklik jammer kry. Dis basiese protokol. Sodoende was my naweek gevul met rooibostee en suurlemoensap, ’n wiskundeprojek (pink eye beteken ongelukkig nie dat my werk ophou nie) en ’n oordadige hoeveelheid avokado om myself te troos.


Natuurlik het my koshuisvriendin aangebied om vir my haar ma se resep vir ’n wonder-“goo” aanmekaar te slaan. Voor ek my kon kry, is ek besig om gemmer-shots weg te sluk asof dit happy hour is. Glo my, dis baie minder glamorous as wat die foodies dit op Instagram laat lyk. Terwyl die brousel by my keel afbrand, het ek werklik my wil om te lewe begin bevraagteken (ek grap net… soortvan).


Ek het my vervolgens na 'n warm bad gewend met die hoop om die kieme uit te week. Hoe naïef kan een mens wees? Toe ek ’n hele uur later soos ’n verrimpelde pruim by die badkamer uitstoom, was dit helaas stééds met bloedrooi oë en nou boonop met ’n loopneus daarby. Lieflik.


Alles in die lewe dien as ’n les en hierdie les was beslis een oor dankbaarheid. Ek belowe om nooit weer oor my werkslading te kla nie (dis wat ek nou sê), want om met toegeplakte oë en ’n skelseer keel wakker te word, is veel erger as enige wiskundetutoriaal. Of is dit?

2 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page