Die nuwe akademiese jaar het afgeskop. En skop, doen dit al reeds.
Ek het oor die Desembervakansie besluit dat daar nie genoeg opwinding in my lewe is nie, en sodoende studeer ek vanjaar aan ’n ander universiteit. Dis nie die werklike rede nie, maar dit klink net soveel beter op papier. Aangesien ek nou juis Kreatiewe Skryfwerk studeer, moet ek dinge vir die leser interessant maak. Maar in terme van my eie opwinding, is daar mos niks so lekker as om ’n nuwe adminstelsel onder die knie te kry nie. Nie eens te praat van hoe jy op jou intuïsie moet staatmaak oor hoe elke onbekende dosent benader moet word nie – ’n baie delikate proses.
Die jaar is nog in sy kinderskoene, maar ek was reeds te groot vir my eie paar en het my naam al met ’n plank of twee geslaan. As ek die planke met verloop van tyd bymekaar maak, sal ek dalk teen die einde van die jaar vir my ’n wendy house kan oprig. Die ergste ding van hierdie aanlyn leer is dat jou foute nou nie net ’n simpel opmerking tydens ’n klas of vergadering is nie; nee, hier word dit die meeste van die tyd op e-pos verewig. En almal weet ’n digitale spoor is so te sê onuitveebaar.
Alles is seker ’n leerskool. Hier sit ek op amper 23-jarige ouderdom darem nou met ’n lêer, want my stapels papiere sal nie meer deug nie (dit het ’n orde, oukei!). My Google Drive is in duisende vouers verdeel (met volledige titels – ek’s baie trots) en my kalender op my foon staan slaggereed. My notaboek lê ook langs my bed, met ’n pen – baie belangrik, want as ek eers moet soek vir een, kan ek maar daarvan vergeet om enigiets neer te skryf. Regtig. Ek sal eers die middag na ete onthou dat ek nog iets wou neerpen. Wat was dit wat ek wou skryf? Geen idee nie. Maar die vae herinnering sal by my spook totdat ek drie weke later weer in die kombuis staan en onthou ek wou tandepasta op my kooplysie sit. (Ek het dit wel intussen gekoop.) Dit gebeur natuurlik ook andersom sodat ek by die huis opdaag en besef dat ek drie houers lyfroom spaar het en skaapagtig moet afkyk na die nuwe een in my hand. Is selektiewe blindheid ’n kondisie? Want dan moet ek dalk dokter toe gaan.
By die akademie is dit 'n ander stryd om by my selfopgestelde skedule te hou. Wonder bo wonder kry ek dit tog altyd reg om my spertye te haal, gewoonlik lank voor die tyd – juis omdat ek weet ek mag dalk vergeet, so hoe gouer dit klaar is, hoe kleiner die kans dat dit per ongeluk nie gebeur nie. Dit help nie veel dat die skedule meer in my kop as op papier is nie. Hier volg ons (royal plural vir die queen van procrastination) ’n holistiese benadering. Die woord holisties herinner my nou dat ek weer wou joga doen (Jammer, Lisa, as jy lees; ek sal nog na die jogavideo’s kyk!). Die joga het ek dalk juis nodig met al die self inflicted stres. Namaste, of hoe?
My ma het altyd gesê my verstrooidheid (en die heelwat onnodige foute wat ek as gevolg daarvan maak) is daar om my nederig te hou. Plat op die aarde. Maar hoe plat moet jy wees voordat jy begin om jou eie graf te grawe onder daardie selfde aarde? Soos die een meme sê: I can go lower. Klink soos ’n uitdaging wat ek aanvaar het. Ten minste sal ek nie daar onder die grond skade kan aanrig of tob oor al die flaters nie.
As jy met dieselfde vlak van verstrooidheid as ek geseën is: Welkom! Sal ons ’n ondersteuningsgroepie stig? Waarvan ons albei sal vergeet, want jy het ook nagelaat om dit in jou kalender te sit. Of nog beter, jy het die e-pos met die uitnodiging verkeerd verstaan, want jy het dit te vinnig gelees. Ek voel jou pyn. Ek lééf jou pyn.
Net as nagedagte voordat ek moet terugkeer na my regte to do-lysie (ja, hierdie was weer een van my maniere van werk uitstel): Persoonlike assistent-poste vir my is tans oop. Ek is wel nog ’n platsak student, so ek sal jou net in goeie koffie en slegte grappies kan betaal (as ek onthou). Maar báie waardering. Dis tog die belangrikste?
टिप्पणियां