Ek het myself in die verlede as 'n vreeslike lojale persoon geag. Lojaliteit het my intussen geleer dat mense jou misbruik en dat hulle hulself blind hou vir ander se sondes – gewoonlik omdat hulle daaruit kan baat. Hoofsaaklik het ek geleer lojaliteit veroorsaak dat jy so verstrengel kan raak in idees, instellings, reëls – basies enigiets buite jouself – dat jy die vermoë verloor om te onderskei tussen reg en verkeerd en wat jou eie mening is eerder as 'n mening wat op jou afgedwing is.
Cambridge definieer lojaliteit as om ferm en onveranderd te wees in jou vriendskap of ondersteuning van 'n mens of organisasie of in jou sieninge/beginsels. Hoekom dink jy het iets soos die Tweede Wêreldoorlog gebeur? Of die instelling van apartheid? As jy my vra: blinde lojaliteit. Ek dink die grootste fout wat ons maak, is om te aanvaar dat hierdie mense of volgelinge aspris in die duister gehou is. Dit is tot 'n mate waar. Propaganda speel 'n groot rol, maar indien jy van nature nie lojaal is nie, is jy minder beïnvloedbaar. Dis dieselfde rede hoekom advertensies beter op sekere mense werk.
Daar is erger groot groepe mense wat hulself bewustelik blind hou selfs al weet hulle iets skort, of dat hulle nie ten volle saamstem met 'n denkwyse nie. Hoekom? Want dis net makliker. Hoeveel keer het jy dit nie al gehoor nie? Niemand wil teen die massas gaan nie. Kyk net hoe is mense as samesweerders uitgekryt toe hulle jare terug van Epstein-eiland gepraat het en noudat al hoe meer inligting daaroor op die lappe kom, is almal wat daardie mense so gekritiseer het skielik tjoepstil.
As jy besluit om nie lojaal te wees nie, moet jy gereed wees om vyande te maak. Dit moet eintlik vir jou 'n gevaarteken wees as almal van iemand hou, want dit beteken daardie persoon is vals teenoor sommige of selfs almal rondom hulle. Lojaliteit is soos mooi verpakking. Daaragter skuil nepotisme, korrupsie, geldwassery, belastingontduiking, noem maar op.
Wat vir my baie ironies is, is dat Cambridge dislojaal definieer as om iemand wat jy veronderstel is om te ondersteun, nie te ondersteun nie. Ek stem nie hiermee saam nie. Ja, ondersteuning is belangrik, maar lojaliteit nie. Is om die waarheid te praat al maak dit iemand seer verkeerd? As iemand jou werklik ondersteun, sal hulle jou ook help om jou foute te sien, nie om dit toe te smeer of selfs aan te moedig nie. Een ding is seker: Ek het opinies en beginsels en ek mag dit ook verander. As jy regtig dink jy lewe in 'n land met vryheid van spraak en assosiasie dan moet jy eers gaan rondkyk of jy werklik besig is om jou eie besluite te neem.
Maak oop jou oë. Wees jou eie mens. En lees meer, veral die skrywes van mense wat vir hul opinies gekritiseer is soos George Orwell met Animal Farm. Moenie positiewe verandering in hierdie samelewing verwag as jy nie daarvoor wil werk nie. Ek weet wat vir my reg en verkeerd is. Weet jy? Of staar jy jou blind teen 'n muur van lojaliteit waaraan jy self help bou het?
Comments