Ek het onlangs weer kommentaar op van my skryfwerk gaan lees (nooit 'n goeie idee nie) en dit het my net weereens opgeval hoe heftig sommige mense kan reageer. Hierdie herinner my baie aan wat ek al oor cognitive dissonance of dan kognitiewe dissonansie gelees het.
Die tipe kognitiewe dissonansie waarna ek verwys is wat Britannica (2020) definieer as wanneer iemand met 'n sekere, gewoonlik sterk, opinie of geloof oor 'n saak met nuwe inligting gekonfronteer word wat hul siening teengaan. Hierdie nuwe inligting word dan met verskeie verdedigingsmeganismes teengestaan. Wat egter vir my interessant is, is dat sulke ekstremistiese of swart en wit-denkwyses gewoonlik met trauma geassosieer word. Met ander woorde, die onbuigbare opinies van mense is dikwels die produk van trauma wat hulle gaan aanhou projekteer indien hulle nie daardeur werk nie.
Ironies genoeg leef ons in 'n era waarin geestesgesondheid, of eerder die gebrek daaraan, seëvier. Daar word ook al hoe meer inligting oor trauma en sielkunde op platforms soos TikTok en Instagram versprei, maar dit ten spyt, blyk dit asof sensitiwiteit saam met ander eienskappe soos gesonde verstand en algemene kennis aan die uitsterf is. Alhoewel mense van aangesig tot aangesig ook dikwels oorreageer, voel dit tog vir my asof dit aansienlik meer op die internet gebeur en 'n mens kan dit sekerlik toeskryf aan die vlak van anonimiteit asook die tekort aan 'persoonlikheid'. Met persoonlikheid bedoel ek persoonlike verhoudings of kontak terwyl ek tog wonder of van die kommentators wel 'n persoonlikheid buiten die van hater het.
Uitstekende voorbeelde van sulke reaksies is sommige mense se kommentaar oor die Amerikaanse verkiesing. Facebook is 'n skatkis of landmyn afhangende van hoe jy daarna kyk. 'n Ander opsie is hoe die keto- en veganis-gemeenskappe na mekaar kan hap, figuurlik gesproke, alhoewel die kannibale dalk die letterlike roete sal volg. Dit herinner my dan ook aan Pizzagate en ander samesweringsteorieë. As 'n kantnota moet ek wel noem dat 'n mens nie samesweringsteorieë op die naam moet takseer nie aangesien heeltal al as waar bewys is, maar dit sal ek aan ander navorsers oorlaat. My senuwees sal nie daardie tipe kritiek kan hanteer nie. Al hierdie situasies tersyde, is dit belangrik om te noem dat verskille in opinies nie 'n slegte ding is nie, dis eintlik verkieslik, want sonder teenstand sou ons nooit na die waarheid en vooruitgang streef nie. Dis egter die manier hoe mense teenstrydige menings hanteer wat die probleem is.
Ek wil afsluit deur te sê dat mense van my gaan en mag verskil. Dalk meen jy dat mense wat iets op die internet plaas hulself vir enige kommentaar moet gereed maak en ek erken daar steek waarheid daarin. Na my mening (ook 'n gevaarlike woord, want dis "onwetenskaplik") is dit nie die kommentaar per se wat die probleem is nie, maar mense se aflewering en aanslag. Hierdie sal slegs verbeter indien mense die tyd neem om na binne te kyk. Introspeksie doen 'n mens goed. Diegene wat belangstel kan gerus ook Individuasie gaan navors. Voor jy kommentaar op hierdie plasing of enige ander lewer, neem 'n oomblik om te dink (vir sommige 'n vreemde konsep), want jou kommentaar en haatspraak sê baie meer van jou as van die skrywer.
Commentaires