Dit was half twaalf gisteraand toe my hart byna gaan staan het. Ek wou net gaan slaap toe iets soos ’n skim met ’n sierlike boog – wat enige hoogspringatleet sou jaloers maak – deur die lug beweeg. Dis eers toe ek die vabond op my kamervloer gewaar toe ek besef wat dit is. ’n Kakkerlak. Kry ’n mens nou k*kker luck?
Lang storie kort, ek en my tekkie het die strydbyl neergelê nadat ek besef het ’n geveg met ’n kakkerlak is nie ’n geveg met die slapende ouers werd nie en ek kruip toe maar in – steeds met die vrees dat iets my in die nag gaan bespring. Kyk, ek weet daar is erger dinge as om ’n bed met ’n kakkerlak te deel, maar sorrie okei, party van ons kan net met eerstewêreldprobleme spog.
Die onwelkome gas het my egter teruggeneem in tyd na my eerste graad 1-eisteddfod met my gedig, ja, jy’t reg geraai: Die kakkerlak. Ek sou graag die video met julle wou deel (ja, daar is ’n video), maar ek moet darem my publieke beeld beskerm. Wat praat ek, ek het nie een nie. Hierdie herinnering het wel dat ’n ander tipe gogga my byt. ’n Teatergogga, of altans ’n behoefte daaraan. As ek dan nie my eie show kan opsit nie, wil ek ten minste na iemand anders s’n kyk.
Het jy al ooit daardie energie gevoel wanneer jy in ’n saal saam met mense sit en na ’n toneelstuk kyk? Dis asof almal as een liggaam asemhaal (wat natuurlik in hierdie tye nie die beste beskrywing is om te gebruik nie). Om nou ’n gedagtesprong so groot soos dié van die kakkerlak te maak: Het jy geweet dat mense ’n elektromagnetiese veld uitstraal wanneer hulle gelukkig is? Dis die rede hoekom hartseer mense so van donderstorms hou: dit herlaai letterlik hulle energieveld. Ek kry dieselfde gevoel na ’n goeie toneelstuk. Dit maak jou ‘heel’. Mense wat drama in jou lewe veroorsaak het, ironies genoeg, die teenoorgestelde effek. Of is dit net ek?
Dis nogal spesiaal om so saam met iemand ’n teaterstuk te kan beleef. Ek praat nou nie van wanneer jy en jou broer of suster die familie-fights in lockdown sit en dophou het nie. Ek praat van hoe jy sien hoe die stofpartikels in die spreiligte van die verhoog stol. Jy sien die kreukels naby die akteur se oë as hulle glimlag. Jy voel hulle pyn as iemand hulle hart breek. Ek dink die onderskeid tussen ’n goeie teaterstuk en ’n film is die feit dat ’n teaterstuk so vlietend is. Jy weet daardie opvoering is uniek. Ja, hulle kan dit weer opvoer, maar daardie presiese bewegings, daardie emosies sal nooit weer heeltemal dieselfde wees nie. ’n Mens kan nou seker argumenteer dat alles wat in die nuus aangaan met die regering en Clicks en wat nog alles, sy eie unieke tipe vermaak bied, maar ek verkies om self vir my vermaak, eerder as deur belasting, te betaal.
So ja, dis my monoloog vir die dag. Ek verlang na die verhoog. Vir nou sal ek maar myself vermaak. The show must go on, al is dit ’n siloloque elke oggend om myself daaraan te herinner om my aanlynleer te doen. Derdejaar is bietjie laat om op te skop en duidelik is ek en my gediggies nie in hierdie ekonomie of pandemie vir die verhoog beskore nie. Alhoewel… my gediggievideo sou dálk kon viral gaan, maar waarskynlik vir al die verkeerde redes.
Komentarze