Desembervakansies is familietyd. En vir ons gesin beteken dit gewoonlik Pretoria-tyd. Die tasse staan gereed en die ritssluiters beur teen die 20 stelle onderklere, want ons kan nooit diarree heeltemal uitskakel nie (alhoewel jy in 2002 laas ’n maagkiem gehad het). Buite begin die eerste sonstrale oor die berge kop uitsteek. Dis sesuur. Ma beduie verwoed vir Pa wanneer om te stop sodat die sleepwa reg geposisioneer is om dit te haak – nie sonder ’n paar kwaai uitroepe van laasgenoemde gesinslid vanuit die motor nie.
Alles is nou gepak, die skedule ook. En ons sit. Ons sit lank. Hulle noem dit nie om dowe neute die langpad nie. Dis somer en dis Suid-Afrika, so die twee en hitte gaan hand aan hand, maar dis bewolk so ons is gelukkig. Vir eers. Verskeie lugtonele vorm die hele rit ons uitsig: van Laingsburg tot Beaufort tot Hanover.
Die Karoo is groen en geil. Toe sien ons rooi. Jip, die vinger van die heat gage skiet op en daar wys dit die volgende toneel uit: moeilikheid. Moeilikheid ken ons baie beter as ’n groen Karoo. In só situasie is dit krisisbeheer. Jy ry op skietgebedjies na die volgende dorp, gaan darem eers badkamer toe, want niemand kan dink met ’n vol blaas nie, en nadat die motor (en jy) effens afgekoel het, is dit sulke tyd.
Jy slaan die bonnet oop. Wat is die skade? Hier meet ons nie net in geld nie, maar ook in ongerief. Ek kyk vanaf die kantlyn hoe Pa met iets wat ’n groot spuitnaald voorstel die motor regdokter. Die groen vloeistof (heelwat minder aanskoulik as die groen Karoo) word soos ’n inenting by die radiator ingespuit. Gaan dit immuniteit bied? Die tyd sal leer, en so sal ons ook.
Die volgende paar dae verloop soomloos. So soomloos soos die Festive Season kan gaan. Een van die ander familielede sukkel toe wel met ’n maag (hierdie keer hardlywigheid) en besluit om die Kersete sommer heeltemal te vermy. Die een hond neem die tweede Kersdag oor. Waar hy die energie kry na die 2021 wat almal agter die rug het, weet niemand nie, en intussen moet Kiepie (dis nou ek) elke nou en dan die radiator check wanneer ek en die moeder alleen met die motor rondrits. Ek sal hierna mechanic by my CV moet voeg.
Maar ja, so tussen die gewone Kersfeesdramas deur begin jy ontspan, op jou louere rus. Jy is tóg hier om vakansie te hou. Dit was fout nommer twee. Nommer een was toe jy voor die vakansie gedink het dié keer gaan anders wees. Hoop is soms ’n regte donner. Maar hoe kan jy anders as om te hoop terwyl jy aan ’n lekker stuk pampoentert of swartwoud-koekstruif sit en smul? En daar vertrek ons, steeds ontspanne, na ons tweede bestemming: die Drakensberge.
Oudergewoonte gaan ons kamp. Die reën bly weg, ’n genade wanneer jy moet tent opslaan, en die bosbokkies groet jou met die aankoms. Tussen die mooi berge vergeet jy van die gejaag van die stad. Dis nou totdat jy op daguitstappies wil gaan en oral toegangsgeld moet betaal. Verstaan die mense nie die opoffering om vanaf die Kaap teen die huidige petrolprys tot die ander uithoeke van die land te reis nie? Jy betaal maar die geld, ’n mens wil seker eerder geld as Covid hoes.
In die kampplek gaan dit darem goed. Ons lees. Ons rus. Ons gaan stap. Die tente word saunas in die middaghitte. ’n Voël poef op my broer. ’n Voël gaan sit op my broer se kop. En ’n voël steel die mango wat ek vir ons opgesny het. Dit was nog oukei. Wat nie oukei was nie, was die badkamers. Die storte se glasdeure is só ingerig dat jy die persoon wat besig is se hele verlede en toekoms kan aanskou, want stortgordyne is nêrens te sien nie. Dis dit, ons gaan bad, al wag jy dan ook ’n halfuur vir iemand om klaar te maak.
Ten spyte van die privaatheid wat die bad jou bied, bied dit jou ook verdere probleme. Iemand kry dit reg om die vloer in ’n rivier te verander (hoe nat kan een mens uit die bad klim?!), iemand anders kry dit reg om die handdoekreling te breek, en ’n derde skuldige kry dit op ons laaste dag ook reg om die knop te breek wat die water tussen die kraan en sproeikop van die bad wissel. ’n Talentvolle klomp wat saam met ons kamp, lyk dit my.
Tog moes ons nog ons seëninge tel, want daar hoor jy dit. Iemand het toe wel diarree. Jy kan nie help om te wonder of hulle onthou het om 20 stelle onderklere in te pak nie. Intussen gebruik die arme drommel omtrent 20 toiletrolle per dag en dis elke keer ’n verrassing of daar nog iets vir jou oor gaan wees.
Ten minste eet ons lekker. Tot dit ook misluk. Ons een pakkie vleis is af. Maar gelukkig het my broer gepak asof ons vir die sewe maer jare voorberei en kom hy tot ons redding met sy hele kaboedel kampkos. Daar is darem ook altyd pasta. Ek kyk na die pakkie pesto. Koljander-pesto. Ek eet nie Koljander nie. Ék het die pakkie gekies. Natuurlik, want nadat ek my Honneurs in Afrikaans voltooi het, kan ek blykbaar nog steeds nie lees nie. Maar ek sluk my trots, my grille en geite en ook die pasta met pesto. En ek besluit dis nie só sleg nie. Ek kon diarree gehad het.
Dis 1 Januarie 2022. Die dag van nuwe beginne. Die dag van nuwe probleme. Die dag waarop die motor weer moeilikheid gee. Rook borrel by die uitlaatpyp uit. Die top gasket is op pad uit. Dit reën, ons kry koud en, ergste van alles, die koffieplek het nie meer oop tafels nie. ’n Werklike tragedie. So ons doen wat enige logiese groep mense sou doen. Ons gaan eet eers pizzas vir middagete. Hulle noem dit nie verniet comfort food nie.
Dis een lang gekoukus oor die foon met die regte mechanic later (toe nie ek nie, ek sal maar daardie droom skrap). Daar word met die ander motor na die naaste groot dorp gery om ’n obskure vloeistof aan te skaf om in ons motor te gooi en ons, hopelik, by die huis te kry. Die vakansieplanne is opgeskort. Ons sou nog in Rosendal en Graaff-Reinet draai, maar nou is dit net terug Kaap toe, huis toe, na baie beter badkamers toe.
Ek het myself as lucky charm aangewys en verkondig dat ons dit wel tot in Bellville sal maak. In Betlehem het ek ’n vinnige wens deur middel van ’n perdeblom (dandelion) ingewerk – ’n mens kan nooit te versigtig wees nie – en daar beur ons voort op die besige N1. Alles verloop goed.
Dis al na elf die aand en ons kan al die huis ruik, maar die mense begin al onverskilliger ry. Hulle’s haastig, hulle vat kanse, en ons sien hoe ’n motoris net-net verby ’n taxi skuur na ’n waaghalsige verbyvat. Verder aan moes ’n biertrok vir iemand uitswaai en dié lê geknak langs die pad, met die groep aasvoëls wat selfs in die middernagtelike ure langs die pad stop om verniet bier te aas.
Net voor twee-uur die oggend ry ons oor die laaste heuwel tot by die huis. Ons is tuis. Ons is veilig, en ons is baie baie moeg, maar nog meer dankbaar. Vakansie is nie vir die faint of heart nie. As jy dink jy gaan ontspan, maak jy ’n fout. Maar as jy dink jy gaan dit onthou, is jy heeltemal korrek. Tot die volgende verhaal wat wag om homself te skryf. Tot die volgende vakansie. Ek is versigtig om te sê ek sien uit.
Comentários