My hart galop binne-in my bors. My asem jaag en die sweet prikkel teen my slape af. Klink na 'n maraton nè? As dit maar net was… Hierdie is iets veel erger. Hierdie Kapenaar is besig om te trek. Potch toe. Koshuis toe.
Net 'n paar goed maak my regtig gespanne. Eerstens is daar interaksies met nuwe mense wat, volgens my, enige normale mens in 'n koue sweet sal laat uitstaan. Veral wanneer ek vir die hoeveelste keer moet verduidelik hoe om my naam uit te spreek #firstworldproblems. Tweedens is dit 'n gebrek aan privaatheid. Glo my, ek het al 'n nare ervaring gehad waar ons op vakansie was met 'n deurlose badkamer. Prettig. En derdens is dit 'n gebrek aan alleentyd. Daar is niks wat 'n introvert so uitput soos om vir 'n hele dag deur 'n koshuis vol meisies omring te word nie. Sonder “me-time” gaan ek vinniger verlep as 'n waterlelie in die woestyn. Dankie tog vir my enkelkamer anders het ek hierdie jaar nie net my eerste jaar in die koshuis deurgebring nie, maar my eerste jaar in 'n sel. Nou vir die groot vraag: Hoekom sal ek myself aan al drie blootstel? Glo my, ek wonder self.
Twee motors. Dit was al manier hoe ons hierdie vrag tot in Potch kon vervoer. Die vraag was nie óf ons alles daar gaan kry nie, maar hóé. 1300 km is ver, die Karoo groot en die hitte verswelgend. Dit was vanselfsprekend 'n gulde geleentheid om my kraakvars lisensie in te span. Ek het nog net een keer voor dit 'n snelweg aangedurf en dit slegs teen 90km/h te danke aan reën. 120km/h? Ek weet nie so mooi nie. My ma duidelik ook nie. Sitplekgordel vas. Sonbril op. 'n Relatiewe stil pad en my ma wat reeds aan die sitplek vasklou. Ek was gereed. Óns was gereed. Wel, ek sit nou hier en skryf so jy kan seker aanvaar dat ek nie verongeluk het nie.
Ek het gedink inpak is erg, maar om uit te pak? Dit is waar jy regtig jou vermoëns op die proef begin stel. Dit vat 'n spesiale persoon om alles in 'n koshuiskamer in te pas, enkelkamer of nie. Nadat ek reeds tien liter in die 35°C uitgesweet het, was dit tyd om deur die berg bagasie te beur en orde te skep. Na 'n uur en 'n half se gestoei, kon ek vaagweg die vloer sien. Ek het al lankal my hoop op 'n atletiekloopbaan laat vaar (nie dat ek ooit sulke drome gehad het nie) , maar ná hierdie ervaring sal ek moet heroorweeg. Nog nooit het ek so baie rondgehol om bokse, 'n mikrogolf, hordes skoene en klere te verpak nie. Meer nog, nog nooit het ek só baie tyd in 'n winkelsentrum deurgebring op soek na 'n wasgoedmandjie nie. Of selfs net in 'n winkelsentrum nie for that matter. Daar is niks, níks, wat jou laat besef hoe baie kaggelk*kkies jy besit totdat jy jou hele kamer moet ontruim en verplaas nie.
Ons het natuurlik boonop verkeerd verstaan dat die eerstejaars reeds hierdie aand in die koshuis kon slaap. Toe nie. Gelukkig is die HK-lede vriendelik. Vir nou in elk geval. Na hul goedkeuring sluip ek die aand soos 'n skim deur die stil gange. Ek mag dalk al ingetrek het, maar nou lê die volgende paar berge voor. Gaan my klere in die was krimp? Gaan ek darem vriende maak? Niemand weet nie, maar ek het reeds rys in my mikrogolf laat oorkook, die krag het al afgegaan en die toiletpapier was al twee keer op. Hoeveel erger kan dit wees? As jy my vra? Erger, báie erger…
Comments