top of page
Writer's pictureCorine Raath

Resensie: Slaafs – Bettina Wyngaard



Slaafs is Bettina Wyngaard se derde roman wat in 2016 vir die eerste keer op boekrakke verskyn het. Die boek behoort aan die kategorie van "krimmies" oftewel speurverhale en volg op Wyngaard se tweede boek, Vuilspel (2012). Slaafs kan as 'n voorbeeld van postmoderne feminisme beskou word met 'n lesbiese speurder, Nicci de Wee, as die hoofkarakter. Die hooftema sentreer rondom mensehandel – spesifiek met die oog daarop om die slagoffers as prostitute uit te verhuur – en vandaar verkry die boek dan ook sy titel.


Wyngaard se Vuilspel is voorheen gekritiseer omdat karakters nie volkome ontwikkel is nie en soortgelyke kritiek kan op Slaafs gelewer word. Een van die groot probleme in Slaafs is dat dit voorkom asof 'n lys vereistes afgemerk moes word sonder om te beoordeel of dit waarde by die verhaal voeg. Nicci de Wee is onder andere in 'n verhouding met Sally wat effens te toevallig 'n priester is, veral omdat die insluiting van 'n sekstoneel tussen die twee vroue nie met Sally se beroep strook nie. Verder, is die karakter Gigi wat die polisie met hul ondersoek bystaan, ook toevallig lesbies wat die storie na onmoontlik eerder as onwaarskynlik laat neig.


Nicci se aangetrokkenheid tot Gigi is ook in teenstelling met hoe heg haar verhouding met Sally uitgebeeld word. Wyngaard wou waarskynlik Gigi as karakter inspan om by te dra by die feministiese invalshoek, maar dit kon baie beter benader word indien daar, eerder as 'n flirtasie tussen Gigi en Nicci, 'n vriendskap tussen hulle sou ontstaan wat uitbeeld hoe sterk vroue saamstaan in moeilike situasies. Daar kon ook eerder op Nicci se struikelblokke as vroulike speurder gefokus word. Die verhaal benadruk tans egter eerder dat vroue in kompetisie moet wees soos Sally en Gigi is om Nicci te "wen". Verder voel 'n toneel van aanranding teen Gigi meer soos 'n goedkoop manier om geslagsgeweld by te roer aangesien die voorval nie goed ondersteun of verduidelik word nie en die skuldige, ook 'n polisieman, boonop daarmee wegkom. Wat vreemd is, is dat dit blyk asof die verhaal simpatie eerder as minagting teenoor die skuldige probeer wek.


In terme van taalgebruik, kom daar ongelukkig heeltal anglisismes voor alhoewel dit minder van 'n steurnis vir onervare lesers sal wees. Die storie vloei egter goed en die taal is nie moeilik om te lees nie. Daar is ook 'n kort stukkie dialoog wat in 'n Kaapsafrikaanse aksent geskryf is wat uitstekend uitgevoer is. Aan die ander kant, kom die dialoog op sekere stadia vreemd voor. Nicci en Sally spreek mekaar byvoorbeeld heeltyd as babes aan selfs al vereis 'n toneel 'n ernstiger aanslag wat nie deur die soetsappige aanspreekvorme ondersteun word nie. Die aanspreekvorme wat Nicci en haar kollega, Blackie, vir mekaar gebruik, Ounooi en Oudste onderskeidelik, kom ook onnatuurlik voor in 'n polisieopset waar dit meer gebruiklik sou wees om mekaar op hulle vanne aan te spreek. Die feit dat Blackie vir Nicci terselfdertyd Meisiekind en Ounooi noem, veroorsaak meegaande verwarring.


Die verhaal se redding lê in die hoofplot. Dit is duidelik goed nagevors en 'n mens kan agterkom dat Wyngaard baie moeite gedoen het om met kundiges te praat onder meer vir die insluiting van 'n insekkundige wat help met die polisieondersoek. Die beskrywing van hoe meisies gewerf en vervoer word om as slawe te dien, is ook insiggewend. Daar kon selfs meer inligting hieroor verskaf word aangesien die deursnee mens nie bewus is van wat in sulke omstandighede plaasvind nie.


In die geheel, is die hoofstorielyn in Slaafs baie geslaagd, maar die klein jakkalsies soos onderontwikkelde karakters en swak subplotte doen ongelukkig afbreek daaraan. Wyngaard het egter met haar eerste boek Troos vir die gebrokenes gewys wat in haar steek en selfs die Jan Rabie-Rapportprys weggeraap. Met 'n deeglike redigeerrondte kon Slaafs moontlik op dieselfde vlak meeding.


Telling: 2/5




42 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page